​Hoe om ‘n pragtige tuintjie in ‘n klein spasie te geniet

Johannes van Graan Johannes van Graan
Mostra de Ambientes de Sete Lagoas - Cozinha Gourmet e Área Livre de Lazer, Lider Interiores Lider Interiores Modern Garden
Loading admin actions …

Kyk jy ooit na ‘n pragtige stoep of tuin (hetsy dit nou by iemand anders se huis of hier op homify is) en wens dat jy ook iets soortgelyks in jou klein spasie tuis kan optower? Jip, dit is moontlik! En die beste van als is dat jy nie eers ‘n duur tuinier of ander professionele kenner hoef te kontak nie – net so paar kreatiewe idees is nodig, wat ons nou juis hier gaan verskaf…

1. Houtbankies

Enige stoepie of tuintjie wat ‘n sitplekkie aanbied lyk dadelik meer vriendelik en prakties, en gelukkig is daar vele opsies om van te kies – en nie almal van hulle hoef groot te wees nie.

2. ‘n Nou spasie

Jy hoef nie meters en meters spasie in jou tuin of op jou balkon te hê om dit mooi te maak nie – kyk net na hierdie nou gangetjie en sien watse elemente maak die verskil: die potplantjies, die nou stoeltjies met gekleurde kussingtjies, die pragtige vloer, ens.

3. Speel met teksture

Verskillende teksture verskaf verskillende karakter en “detail” – kyk net hoe lieflik werk hierdie klipmuur en houtvloer saam met die rottang meubels, en dan praat ons nie eers van die treffende kleure nie.

4. Wit is wonderlik

Nee, jy hoef nie jou hele stoepie wit te maak nie, maar ‘n klein spasie lyk dadelik groter as dit spog met ligte neutrale kleure soos wit, room, sagte gryse, ens.

5. Potte wat pronk

‘n Potplant is nie net ‘n houer wat jou plant of blom vashou nie – dit is deel van jou tuin/stoep se dekor, en daarom moet jy mooi dink watter jy gaan kies. Werk hul kleur saam met jou spasie se kleurskema? Is hulle te groot en laat hulle die area beknop lyk?

6. ‘n Lieflike eetplekkie

As jy kan, stel ons beslis voor dat jy ‘n ou eetspasie optower, aangesien ons land se klimaat perfek is vir buite kuier en –ontspan. Hierdie voorbeeld wys vir ons dat jy glad nie baie spasie hoef te gebruik nie, maar dat jy nogtans slim moet wees met dinge soos koelte (met die afdakkie), genoeg vloerspasie vir beweging, ‘n area wat skoon en netjies is, ens.

7. Plante vir jou mure

Nie genoeg vloerspasie vir blomme nie? Maak dan gebruik van jou mure, aangesien hangplante, rakkies met blompotte, en vertikale tuine glad nie nuwe uitvindsels is nie!

8. Onthou die beligting

Aangesien sonlig nie 24 uur van die dag beskikbaar is nie, moet ander maniere van beligting bekom word om jou stoep/tuin op te tower. Ons gunsteling is om meer as een lig te gebruik om verskillende areas van jou tuin te beklemtoon, soos ‘n lantern vir die vloer, ‘n tafellampie vir jou tafeltjie, ‘n hanglampie vir die muur, ens.  

Beloer gerus hierdie 8 tuine wat jou sommer gaan lus maak vir tuinmaak!

Need help with your home project?
Get in touch!

Highlights from our magazine